Kranskloof

Aansoekvorm

U kan die aansoekvorm vir Kranskloof by die skakel hieronder aflaai:

Kranskloof aansoekvorm

Padkaart

kranskloof padkaart

U kan die padkaart aflaai by die volgende skakel

Kranskloofpadkaart

 

KRANSKLOOF JEUGKAMPTERREIN – ‘N DROOM WORD WAAR

Die ontstaan en ontwikkeling van Kranskloof was in vele opsigte ‘n droom wat waar geword het, nie alleen omdat dit so ‘n pragtige kampterrein is nie, maar ook omdat die hele gemeenskap so pragtig saamgewerk en die seën van ons Hemelse Vader so duidelik daar geopenbaar is. Ek haal graag vir u aan uit die notule van die Beheerraad van Mei 2001 as volg: Die seën van Kranskloof Jeugkampterrein: “Die Voorsitter bedank die vergadering vir hul moeite en insette by Kranskloof en vestig die aandag op die baie mense binne en buite die Vallei wat groot seën daar ontvang het. Dit word deur br Bernhard Joubert beaam en hy wys op die ryke geestelike ervaring vir menigeen wat die terrein saam met diensgroepe besoek.”

Dit was lank reeds ‘n groot behoefte vir die gemeenskap van De Doorns en in besonder die Kerke en Skole en veral die Voortrekkers om ‘n lekker gerieflike kampterrein naby ons te hê, wat maklik bereikbaar is en tog ook ‘n lekker eilandsituasie kon skep, verwy- derd van die nabye daaglikse lewe. Dr J van der Merwe, leraar van Murraygemeente, het in die besonder die gedagte bevorder, veral as Kommandoleier van die Voortrekker Kommando, en dit was dan ook ‘n groot oomblik toe mnr Hannes Joubert as weldoener in 1987 ‘n stuk grond aan die oostekant van sy plaas, tussen die Karookoppe wegge-steek, van die Vallei, en tog met ‘n pragtige uitsig op Matroosberg. Die gemeenskap, met Dr van der Merwe aan die spits, het vinnig weggespring om die terrein te begin ontwikkel en het reeds teen Februarie 1989 tenders gevra vir die bou van ‘n saal met kombuis en ablusiegeriewe. Wyle mnr Martin de Kock en mnr Dawie Kinghorn het ‘n leidende rol gespeel met die beplanning van die gebou en met onderhandelings met die bouers. Mnr Piet Badenhorst het ook gesorg dat daar ‘n behoorlike binnebraai ingebou word, soos net die Vallie se boere dit kan doen. Stears Broers het die boukontrak gekry met ‘n tender van R88 000 en het dan ook die gebou voltooi teen die einde van 1989. Fondse was maar skaars, maar tog kon die gemeenskap aanvanklik R40 000 bydra met ‘n groot aantal kleiner skenkings en het mnre Hannes Joubert, Stefaans Rossouw en Nico de Kock elk R20 000 rentevry voorgeskiet vir twee jaar. Die saal is dan ook met luister ingewy op 13 Januarie 1990 met ‘n toespraak deur Oom Martiens van der Vyver (burgemeester) en ‘n lekker potjiekos aandete. Daniel Viljoen onthou dat Ds Matie Brink die potte net kom aflaai het met groot hompe vleis. Onder andere heel hoenders en dat hulle dit toe moes gaarmaak – dit was darem baie lekker op die ou end, sê hy.

Intussen moes die beplanners bontstaan met al die reëlings met die owerhede, bv toestemming by Spoornet om hul toegangspad te gebruik, reëlings om die spooroorgang gebou te kry (aan die begin moes ons onderdeur die treinspoor met die duikweg al in die riviertjie op ry en lg het kort-kort verspel met reëntye – daardie jare het dit nog baie gereën). Verder moes die grond hersoneer word om daarop te kon bou (dit was eintlik landbougrond), Eskom moes krag aanlê tot by die spoorlyn, ‘n huurkontrak moes met mnr Hannes Joubert opgestel word, aansoek moes gedoen word by Departement Water-wese vir ‘n watertoekenning, ens, en vir al hierdie briewe moet mnr Piet Joubert (skool-hoof), as ons sekretaris, bontstaan om voor te bly. Departement Waterwese het uiteinde-lik in Maart 1992 ‘n watertoekenning van 3 500kub gemaak, maar hierdie water is eers heelwat later in 1998 deur die Rapportryers aangelê tot by die terrein en ons kon toe vir die eerste maal met vars water die grasperk en bome besproei. Heel in die begin moes Oom Hannes plaaswater oppomp vanaf die Nasionale pad, net sekere tye van die week wanneer hy besproei, wat maar ‘n baie ontoereikende stelsel was.

Byna vergeet ek, die naamgee vir die terrein was ‘n groot gedoente met ‘n kompetisie wat onder die kinders uitgeskryf was vir voorstelle vir ‘n gepaste naam. Uiteindelik was daar vyf voorstelle op die tafel, nl. Die Hannes Joubert Jeugkampterrein, Kranskloof, Rooikrans Jeugterrein, Botterboomkloof en Diepkloof. Die wenner was Lucas Badenhorst met die baie gepaste naam, nl Kranskloof en Lucas het ‘n eerste en tweede prys verwerf met Johan de Vries (wyle Jannie de Vries se seun) ‘n derde prys. Tot op hierdie stadium het die gemeenskap met wisselende entoesiasme saamgewerk met alles wat by Kranskloof gebeur het en Dr van der Merwe het voortdurend gesorg dat die maksimum hoeveelheid mense betrek word by elke aktiwiteit. Die Beheerraad in 1990 lees dan ook so dat elke moontlike instansie ‘n sê kon hê in Kranskloof, elkeen met sy een of twee verteenwoordigers as volg:
Kerkraad: Dr J van der Merwe, Gert van Schalkwyk, Daniel Viljoen, Christo Dippenaar Gerda de Bruyn (Rossouw), Johan Klopper; Jeugkomitee: Kobus Kok; Vrouediens Jeug: Vakant; BKJA: Deon Palm; Voortrekkers: Annette Jordaan, Laetitia Jordaan; Heemrade: Flip Fouché; Rapportryers: Rian Jordaan, Christof du Plessis; Voorberei-dingskool: Willie Strydom; Boerevereniging: Marais le Roux; Hoërskool Hexvallei: Piet Joubert; Pre-primêre Skool: Beatrice Joubert; Skoolkomitees: Martin de Kock; KAO: Hentie van der Merwe, Piet Badenhorst; Gemeeskapsport: Dawie Kinghorn; SDR: Oom Martiens van der Vyver; Skenkerfamilie: Oom Hannes Joubert.

Teen 1993 was dit duidelik dat die kampterrein nog nie regtig ‘n sukses was nie agv die feit dat daar nie ‘n behoorlike slaapsaal met beddens was nie, geen swemplek nie en stowwerige grond het die saal omring. Die kinders was dus maar traag om daar te gaan kamp. Die eerste kampfooie was dan ook vasgestel op R1 per persoon per nag plus R30 diensfooi (vir hele groep). In Maart 1993 het wyle Hentie van der Merwe, Bennie Kriegler en Rian Jordaan in Hentie se huis bemekaargekom en net daar besluit om die terrein volledig te ontwikkel met ‘n slaapsaal met beddens, swemdam, gras en ‘n boorgat as betroubare en standhoudende waterbron (ongelukkig was dit brakwater). Om ‘n langstorie kort te maak, teen Junie 1994 was alles klaar gebou, weereens deur Stears Broers, teen ‘n koste van ongeveer R55 000, gras en bome geplant en die swemdam vol water. Weereens het sommige van die gemeenskap skenkings gemaak van rondom
R1 000 elk, (party selfs meer) en die Rapportryers het die gras geplant. Baie ander lid-mate het stoele, beddens en matrasse geskenk en kleiner bedrae. NG Gemeente Murray het oor ‘n aantal jaar meer as helfte van die kapitaalkoste bygedra met ‘n bedrag van R10 000 jaarliks, waarvoo daar natuurlik wonderlike seën was. Die Rapportryers het ook toe ‘n pragtige buitebraai gebou en ‘n heerlik gesellige lapa vir kampvure. Die kampterrein was nou selfonderhoudend nadat ‘n kleurbrosjure aan al die NG Gemeentes en Model C-skole in Wes-Kaapland gestuur is om die pragtige terrein bekend te stel en besprekings daarna fluks begin inkom het. Veral van die Kapenaars was nogal lief vir ons wêreld. Snaaks, maar De Doorns se “Murray’-kinders het nooit vreeslik lief geraak vir Kranskloof nie – hul herinneringe aan die vroeëre yseige winterskoue of drukkende warmte in die somer en/of stowwerigheid was seker te groot! Ander skole en kerke het egter tougestaan om by Kranskloof te kom kamp. Hierdie laaste fasiliteite is in Septem-ber 1994 ingewy toe Ds Hugo die lint geknip het en Dr van der Merwe die eerste swem-mer in die nuwe swemdam was. ‘n Ander belangrike ontwikkeling in die tussentyd was natuurlik heerlike stil en warm en “helder” Eskom krag wat Joe James vir ons aangelê het vanaf die treinspoor tot by die saal. Ons was baie bly om van die raserige kragop-wekker, wat agter die kombuis gestaan het, ontslae te raak. Die hoogtepunt was seker toe ons ons eerste warmwaterstorte kon geniet eers teen September 1995. Hoe het die arme drommels skoongekom voor die tyd?! Hierdie warm water het natuurlik van ‘n klein kits warmwater toestel, spesiaal uit Duitsland ingevoer, gekom. Ongelukkig was dit nie vir brakwater ontwerp nie en het die elemente later erg begin aanpak. Deesdae gebruik ons twee nuwe standaard warmsilinders addisioneel tot die kits silinder en ‘n spesiale “sel” wat die aanpaksel voorkom. ‘n Ander lastige probleem in die begin, was bobbejane wat hulle op die saal se dak tuisgemaak het met die gevolglike besoedeling wat in ons watertenke afgeloop het. Mnr AD Coetzer het hulle egter permanent verskrik toe hy lemmetjiesdraad op die saal se dak gesit het.

Daar was steeds net 35 beddens op Kranskloof en die behoefte aan meer slaapplek vir groter groepe het al groter geraak. So het die Beheerraad, wat intussen gekrimp het tot sowat agt persone, hoofsaaklik van Murray, dan besluit om in die jaar 2000, saam met die millennium, ‘n verdere slaapsaal met nog 36 beddens te bou, waaronder 3 klein kamers met amper dubbelbeddens vir pa en ma, asook addisionele toiletgeriewe. Die boukoste was meer as R100 000, maar hierdie keer was die finansiering grotendeels uit eie winste gegenereer oor al die jare met die res weereens deur Murray bygedra. Tans is daar geen skuld op Kranskloof se boeke nie. Stears Broers met Gideon Meissenheimer se hulp, was weer die bouers en het ‘n pragtige gebou vir ons gegee. Die kampterrein was nou volleidg ontwikkel en veelsydig met alle nodige geriewe en voorsiening vir 71 besoekers met elkeen sy eie bed.

Ek is seker baie mense sal vele wonderlike verhale kan vertel oor hul ervarings by Kranskloof. ‘n Baie ryke verskeidenheid van mense van al ons gemeenskappe het oor die jare daar gekamp onder die toelatingsbeleid van die Beheerraad, nl. dat die kamp-plek bedoel is vir Christelike/Kerklike jeugwerk, Opvoeding in breë verband en Kultuurorganisasies. Trouonthale en mondigwordings het ook ‘n paar keer daar plaas-gevind. Soms moes die Beheerraad nogal slim voetwerk gebruik om potensiële ongewenste elemente weg te hou wat dalk die fasiliteite kon misbruik. Hulle het dan ook vir baie jare die gasheerstelsel gebruik waar aansoekers onder die vyf stigterslede moes resorteer vir toegang, wie dan die volle verantwoordelikheid vir hul gaste sou neem. Die Stigterslede was: NG Kerk Murray, Voortrekkers, Rapportryers, Boerever-eniging en Hoërskool Hexvallei. Van die mees geseënde kampe oor die jare was seker die Verhoudingsgroei olv Ds Deon Koegelenberg en andere wat baie wonderlike vrugte gedra het. Ons kan net ons Hemelse Vader loof en prys vir die groot seën wat Hy oor al die jare oor Kranskloof uitgestort het. Dit kan met reg as ‘n gemeenskapsprojek in die ware sin van die woord bestempel word en as sulks was dit wonderlik suksesvol en geseënd. Miskien is ‘n uittreksel uit ‘n notule van 19 Junie 1995 van ‘n Beheerraadsver-gadering hier baie veelseggind, nl. “Die koster sal versoek word om met die Kerk se terreinpersoneel die geboue ‘n keer behoorlik skoon te maak. Dit moet vóór 1 Augustus 1995 geskeid aangesien belangrike kerklike en kulturele byeenkomste met hooggeplaas-te besoekers vanaf dié datum gehou sl word”. Ten slotte wil ek graag meld dat Maryna Bingle en haar spannetjie die laaste paar jaar vir Kranskloof weekliks blink en skoon hou en is ons haar baie dank verskuldig daarvoor. Vroeër het mnr AD Coetzer natuurlik die skoonmaakwerk behartig en was hy maar redelik bly toe ‘n vrou se hand hom van die takie kom verlos het. Hiermee wil ek ook sommer graag vir almal hartlik bedank wat deur al die jare ‘n bydrae gemaak het om Kranskloof ‘n groot sukses te maak, sommige groter as ander, maar almal ewe belangrik.

Rian Jordaan