ONS FOKUS

Menswees in die teenwoordigheid van God

God se oes en dissipelskap

ONS KERNWAARDES

Hierdie gemeenskaplike waardes verenig ons en omskryf ons identiteit en werkswyse as volgelinge van Jesus:

Drie-enige God

Ons glo in God die Vader en Skepper, in Jesus as enigste Verlosser en in die Heilige Gees, as God met my

Jesus is ons Hoof

Jesus Christus is die Hoof van Murray en ons sal altyd sy leiding volg deur biddend te wag en te luister na die Bybel as God se Woord en die Heilige Gees

Dissipelskap

Ons wil aktief besig wees om van elke lidmaat ’n dissipel en dissipelmaker van Jesus, te maak

Liefde en vrugte dra

Ons sal mekaar liefhê en ons deur die Gees laat beheer sodat sy vrug ons optrede teenoor mekaar sal kenmerk

Die Koninkryk

Murray gemeente is deel van God se koninkryk maar ons weet dat die koninkryk baie wyer as die gemeente is - ons werk saam met God in sy wingerd (Murray, die Vallei, Afrika en verder) met die oog op die oes, wat aan Hom behoort

ONS FOKUSPATRONE

Bybelse vorming en dissipelskap

’n Gemeente wat getrou is aan sy roeping help sy lidmate om te leer hoe om hulle lewe deur DIE BYBEL te laat vorm en hoe om volgens die Bybelse waardes te leef. So ’n gemeente is aktief besig om van ELKE LIDMAAT ’N DISSIPEL van Jesus te maak – ‘n proses waarin die Bybel ‘n sentrale plek inneem. Almal in die gemeente is betrokke om te leer wat dit beteken om ’n dissipel van Jesus te wees, mense wat nie net bely dat hulle glo nie, maar wat hulle geloof op so ’n manier in die alledaagse van die lewe uitleef dat ander Jesus in hulle lewens begin raaksien.

Afhanklikheid van die Heilige Gees

’n Gemeente wat getrou is aan sy roeping bly afhanklik van die HEILIGE GEES, veral deur gesamentlike GEBED en om op God te WAG vir sy leiding, want hulle het die verwagting dat die Gees hulle sal lei en deur hulle sal werk. So ’n gemeente besef dat die Gees nie net in die gemeente aan die werk is nie, maar ook in die breë gemeenskap.

Om te reis na die heerskappy van God

’n Gemeente wat getrou is aan sy roeping besef dat die gemeente self nie die koninkryk van God is nie. Hulle besef sy KONINKRYK IS BAIE GROTER EN WYER as die gemeente, maar verstaan dat hulle ’n voorsmakie van die koninkryk vir die wêreld moet wees. So ’n gemeente weet dat hulle nog nie gearriveer het nie, dat hulle nog nie is wat hulle moet wees nie en weet daarom dat hulle altyd besig sal wees om te TRANSFORMEER. Stagnasie is nie ’n opsie nie.