Ontstaan
Omdraaistraat Gemeenskapskerk is die vrug van die werk van Amos op plase vanaf 1997. Ons het gesien dat mense wat kerkloos is tot bekering kom en nie ‘n tuiste vind by bestaande kerke nie. Die behoefte was om hierdie jong bekeerlinge toe te rus om ‘n lewe van oorwinning te leef. In groot afhanklikheid van die Here het ons die eerste Sondag in Maart 2003 ons deure in die ou kerksaal in Omdraaistraat oopgemaak as opleidingsentrum vir gelowiges.
Lidmate van die NG Kerk, VGK, en Worcester Christengemeente het by hul gemeentes toestemming gekry om met hierdie opleidingsentrum te help. Die eerste Sondag was ons ongeveer 70 mense en die Here het elke dag mense bygevoeg. Na sowat 7 maande het ons besef dat die gebou ‘n geestelike tuiste geword het en die behoefte het ontstaan dat die opleidingsentrum ‘n kerk sal word.