PINKSTER 2020 – Gesprek 1
Wie is die Heilige Gees?
Genade en vrede vir julle!
Wanneer ons aan Pinkster dink, dan gaan dit natuurlik oon een baie belangrike Persoon, naamlik die Heilige Gees. Pinkster verwys immers na die uitstorting van die Heilige Gees op die volgelinge van Jesus, en omdat ons volgelinge van Jesus is, ongeag watter kerk jy bywoon, word ons ook geraak deur die Heilige Gees.
Maar selfs vir die van ons wat die langste of diepste glo, bly die wese van die Heilige Gees nog steeds iets waaroor ons dalk nie so baie weet nie. So ons eerste vraag is dus:
1. Wie of wat is die Heilige Gees? Bespreek gerus met mekaar.
Een van die redes hoekom ons nie so seker is oor die Gees van God nie, is omdat daar nie een enkele teks is wat Hom ten volle aan ons verduidelik nie. Maar op verskeie plekke in die Bybel word daar gepraat oor wie die Gees van God is. In die Ou Testament word daar 88 keer verwys na die Heilige Gees, maar Hy word net 3 keer so genoem. Meeste kere word daar na die Gees van God verwys.
In die Nuwe Testament is daar natuurlik heelwat meer. Daar is minstens 264 verwysings, en vanuit hulle leer ons meer oor die Heilige Gees, wat Hy doen, en waar Hy in ons lewe inpas.
Die eerste belangrike ding wat ons moet besef, is dat die Heilige Gees ’n persoon is. Johannes 14:16-17 sê: 16 Ek sal die Vader vra, en Hy sal vir julle ‘n ander Voorspraak stuur om vir ewig by julle te wees, 17 naamlik die Gees van die waarheid. Die wêreld kan Hom nie ontvang nie, omdat hulle Hom nie sien en Hom nie ken nie. Maar julle ken Hom, omdat Hy by julle bly en in julle sal wees.
Die Heilige Gees is ’n persoon, nie net ’n onsigbare krag of teenwoordigheid nie. Hierdie is wel eienskappe van die Gees, maar dis nie die Gees self nie. Die Gees is ’n persoon van die Drie-Enige God, met gedagtes: (Romeine 8:27), kennis: (1 Korintiërs 2:11), liefde: (Romeine 15:30) en ‘n wil: (1 Korintiërs 12:11). Hy is ook van die begin af daar (Genesis 1:2), en Hy is ewig (Hebreërs 9:14).
In baie kort: Die Heilige Gees is God self! Die Heilige Gees is nie ‘n vreemdeling nie. Nee, die Heilige Gees is nader aan jou as jou eie asem, en is lief vir jou soos wat geen mens ooit kan wees nie. Die Heilige Gees is God self! Een van die 3 persone van God, saam met die Vader en Seun, maar saam een wese: God Almagtig.
Addisionele Tekste: Psalm 139:7-10, Matteus 28:19-20
Vrae:
- Hoe voel jy om te weet die Heilige Gees is nie ‘n vreemde persoon nie, maar eintlik iemandwat jy klaar ken?
- Noem ‘n paar eienskappe van die Heilige Gees wat jy ken
Gebedstemas
Ons bid vir skole, onderwysers, elke leerling of student wat in ‘n moeilike tyd nogsteeds moet leer, en elke ouer wat hulle kinders ondersteun deur hierdie tyd
Addisionele vrae:
- Hoe verstaan jy die Drie-Enigheid van God? Gesels gerus met mekaar en leer by mekaar
- Wat maak dit vir jou moeilik om die Heilige Gees te verstaan?
- Het jy al ooit gebid en met die Heilige Gees gepraat? Probeer dit nou as jy wil