Geen kerk op Sondae, so wat nou?
Soos u nou reeds weet gaan daar vir die volgende paar weke nie eredienste in die Kerkgebou plaasvind nie.
Ons sal dit verseker mis om Sondagoggende bymekaar te kom. Maar ons glo ook vas dat hierdie ‘n geleentheid vir ons as gemeente is om onsself af te vra hoe ons in ons eie huise en werksplekke elke minuut van elke dag kan besig wees met ‘n tipe erediens. Die ontmoeting met God behoort nie beperk te word tot ‘n erediens op ‘n Sondag nie, maar behoort ‘n daaglikes ervaring vir ons as gelowiges te wees.
Ons wil egter nie ophou eredienste hou nie. Wat wel anders gaan wees is waar en hoe ons die eredienste gaan hou. As leraars wil ons op verskillende maniere hiermee help. Dit sal onder andere beteken dat ons kort boodskappe skryf, soms opneem, en aanstuur. Ons is ook besig om almal se besonderhede op Whatsapp groepe te laai waarmee ons meer deurlopend kontak wil maak.
So indien jy sien dat jy ‘n Whatsapp boodskap kry van “Group. Murray 1” (of ‘n ander nommer), MOET ASSEBLIEF NIE AFVEE NIE. Ons wil dit as ons primêre manier van kommunikasie gebruik.
Ons wil vir elke Sondag ‘n kort videoboodskap op Youtube laai wat almal tuis op hulle slimfone, rekenaar, of Slim TV’s kan kyk. Die gedagte is om saam met die video ook ‘n liturgie voor te berei wat julle as gesiine saam kan deurgaan en op so ‘n manier tog erediens hou. Dit sal goed wees om die volgende te oorweeg:
- Gesinne of klein groepie vriende kom nogsteeds 9h30 op Sondae by die huis bymekaar vir die erediens
- Skakel almal se fone af sodat die erediens nie onderbreek word nie
- Volg die liturgie wat julle vooraf sal ontvang
- Volg die skakel na die video preek wat vooraf aangestuur sal word
- Indien daar besprekingsvrae is, behandel dit en gee elkeen kans om ‘n bydrae te maak
- Bid saam die gebedsonderwerpe wat saamgestuur is
- Vir die wat wil, gee julle dankoffers en gooi in ‘n koevert of blikkie en wanneer die tyd reg is, kan dit by die Kerkkantoor ingegee word. Alternatiewelik maak ‘n EFT in die kerk se rekening in
- Indien jy kommentaar wil lewer op die preek, enige gleoofsvrae het of sommer net ‘n bydrae wil maak tot die gesprek, kan jy op Youtube die volgende intik by die search: NG Murray Gemeente. Daa sal jy ‘n blokkie kry wat jy kan kliek: Discussion. Waneer dit daar oopmaak kan jy kommentaar lewer of ‘n bydrae maak tot die gesprek. Probeer dit asseblief opbouend doen en nie gebruik om ander af te kraak of ander sake the bespreek nie
Ons vra dat persoonlike kontak sover moontlik vermy moet word. Eerde nou veilig speel as later spyt wees, soos tans die getuienis van baie Italianers is.
Ons sal dus op verskeie maniere probeer ondersteun en wil weereens vra dat indien daar behoeftes of vrae is, julle nie sal skroom om die lerarrs te kontak nie.
Alles seën,
Die Leraars