Pinkster

PINKSTER 2020 – Gesprek 2

Wat doen die Heilige Gees?

Genade en vrede vir julle!
Ons het gister begin met ons gesprek oor die Heilige Gees, en veral gekyk na die vraag: Wie is die Heilige Gees. Vandag gaan ons verder gesels, en kyk na wat die Heilige Gees doen. Maar dis belangrik dat ons onthou wat ons gister gesê het: Die Heilige Gees is nie ‘n vreemdeling nie, dis God self. Hy is een van die drie persone van God. Vandag vra ons dan die vraag: Wat doen die Heilige Gees? Wat is Sy rol, waar is Hy betrokke, veral ook in my en jou lewe. 

Lees gerus Johannes 16:7-8 saam, en julle kan vir mekaar sê wat julle daarin hoor oor die Heilige Gees: 

Johannes 16:7-8 7 Tog sê Ek vir julle die waarheid: Dit is tot julle voordeel dat Ek weggaan, want as Ek nie weggaan nie, saldie Voorspraak, die Heilige Gees, nie na julle toe kom nie; maar as Ek gaan, sal Ek Hom na julle toe stuur. 8 En wanneer Hy kom, sal Hy bewys dat die wêreld skuldig is aan sonde, en dat die reg aan my kant is, en dat die oordeel al gekom het.

Die woord “Voorspraak” verwys na iemand wat namens ons met God praat, of deur Wie ons met God praat. Die die persoon van God wat nou by ons is. Hy het gekom nie net om ons te oortuig van ons sonde nie (vers 8), maar ook om ons ’n nuwe lewe te gee. Titus 3:5-6 sê: Hy het ons verlos, nie op grond van iets wat ons vir ons vryspraak gedoen het nie, maar op grond van sy eie ontferming. Dit het Hy gedoen deur die wedergeboorte wat die sonde afwas, en deur die Heilige Gees wat nuwe lewe gee. 6God het die Heilige Gees oorvloedig op ons uitgestort deur Jesus Christus ons Verlosser. 


Die Heilige Gees is sentraal belangrik in my en jou verlossing! Hy maak ons nuwe mense, en Hy is nog steeds besig daarmee deurdat Hy met ons praat (Openbaring 2:7), dat Hy ons leer (Johannes 14:26), deur ons te wys wat ons moet doen (Handelinge 8:29), deur ons na Jesus te wys (Johannes 15:26-27), en Hy kan ons selfs keer om iets te doen (Handelinge 16:6-7). Ook wanneer ons bid, is die Heilige Gees daar om ons te help (Romeine 8:26). Hy is verder ook die Een wat vir ons ons Geestelike Gawes gee (1 Kor 12), maar ons sal later meer hieroor gesels.
Ten slotte: Die Heilige Gees is God self. Hy is die Persoon van God wat by jou is en binne jou werk. Hy doen dit omdat Hy lief is vir jou en die beste vir jou wil sien, en deur jou ook die beste vir jou gesin, familie en almal om jou wil hê.

Vrae:

 

  1.  Waar het jy al gesien hoe die Heilige Gees in jou lewe werk?
  2. Waarmee wil jy graag hê dat die Heilige Gees jou vandag moet help
  3. Kan jy dink aan ‘n liedjie wat oor die Heilige Gees gaan? As julle wil, sing hom saam.

Gebedstemas

 

Ons bid saam vir ons land se leiers, van die President af deur tot by ons plaaslike gemeenskapsleiers en besluitnemers, asook die polisie en ander wetstoepassingsmagte wat werk om ons land te beveilig in hierdie tyd

Addisionele vrae:

 

  1. Het jy al ooit gehoor dat die Heilige Gees met jou praat? Hoe het dit geklink?
  2. Vertel miskien van ‘n tyd waar jy die Heilige Gees in iemand anders se lewe gesien werk het.
  3. Dalk ‘n moeiliker vraag: Dink jy die Heilige Gees werk in mense wat nie gelowig is nie?