PINKSTER 2020 – Gesprek 3
Hoe weet ek ek het die Heilige Gees ontvang?
Genade en vrede vir julle!
Eergister het ons begin met die vraag: Wie is die Heilige Gees? En ons het gesê Hy is ‘n persoon, nie net ‘n onsigbare krag of teenwoordigheid nie. En Hy is ook nie ‘n vreemdeling nie, Hy is God self. Gister het ons verder gekyk na wat die Heilige Gees doen, en gesê Hy is deel van ons bekering, en ook met die verander van ons as mense om meer soos Jesus te word. Natuurlik kan dit dan by ons die vraag wakker maak: Is ons dan seker ons het die Heilige Gees? En hoe kan ons seker wees?
So dis ons eerste vraag vandag:
1. Hoe kan mens seker wees jy het die Heilige Gees in jou?
Baie mense sal antwoord dat dit te doen het met die gawes van die Gees. Bid in tale, profesie, of iets soortgelyk. Ander sal weer verwys na die Vrug van die Gees, en sê dat iemand wat reg lewe die Gees het. Hoewel nie een van hierdie teenoorgesteldes is van die vervulling met die Heilige Gees nie, nee in teendeel dit loop baie keer saam, is die antwoord eintlik baie eenvoudiger. Jesus self gee vir ons die antwoord in Johannes 7:38-39 38 Met die een wat in My glo, is dit soos die Skrif sê: Strome lewende water sal uit sy binneste vloei.” 39 Hiermee het Hy na die Gees verwys, want die mense wat tot geloof in Hom kom, sou die Gees ontvang. Die Gees was nog nie uitgestort nie, omdat Jesus toe nog nie verheerlik was nie.
Natuurlik weet ons dat Jesus intussen verheerlik was, en dat die Gees uitgestort is soos Jesus belowe het. Dis waaroor Pinkster gaan! Maar die belangrike is dat Jesus gesê het: Enigeen wat in Hom glo! So as jy nog wonder, maar jy weet jy het al vir Jesus aanvaar as jou Redder en Here, dan kan jy seker wees die Heilige Gees is in jou! Verder sê 1 Korintiërs 12:3 vir ons dat niemand met opregtheid kan sê Jesus is Here, behalwe deur die Heilige Gees nie. So ek nooi jou, sê dit nou hardop: “Jesus is die Here!”
As jy dit opreg bedoel, dan hoef jy nie meer te wonder of jy die Heilige Gees het nie. Jy kan seker wees.
Maar dalk wil jy dan nou vra: Hoekom voel ek Hom dan nie? Hoekom sien ek nie die Heilige Gees in my eie lewe nie?
’n Goeie vriend van my, Michael, verduidelik dit so: Hy sê die Heilige Gees is soos ’n gas wat in jou huis kom bly. Die dag wat jy vir Jesus aanvaar kom bly Hy in jou huis (jou hart), en Hy sal jou nooit verlaat nie. Maar soos wat ’n huis verskillende kamers het, het jou lewe ook verskillende dele. Jou godsdiens, jou huwelik en gesin, jou werk of jou skool, jou vriende, selfs jou kuiers op Vrydagaande. As iemand ’n gas is in ’n huis, dan gaan hulle nie in kamers ingaan as hulle nie ingenooi word nie. Net so ook gaan die Heilige Gees nie homself in forseer in die verskillende dele van jou lewe nie, Hy kom as jy hom innooi. Die Heilige Gees wil graag deel wees van elke deel van jou lewe! En as jy hom deel maak, sal jy beleef hoe Hy kragtig in jou en deur jou werk. Maar ons is partykeer te bang, te trots of te gemaklik om Hom in te nooi. Jy kan egter vandag kies om Hom nog dieper in jou lewe in te nooi, en toelaat dat Hy jou lewe vervul!
Vrae:
- Het jy al ‘n ervaring van die Heilige Gees gehad? Deel met ander oor hoe dit gevoel het
- In Watter deel van jou lewe is jy nog bang om die Heilige Gees in te nooi?
Gebedstemas
Ons bid spesifiek vir die armes, die swakkes, en die wat aan chroniese siektes ly. Ons bid ook vir die mense wat honger, koud en alleen is in die tyd. Ons bid dat die Here ons oë ook sal oopmaak vir die geleenthede waar ons mense kan help
Addisioneel
VRAE:
Wat kan ons doen of verander aan onsself sodat ons nog meer Gees-vervuld kan lewe?
TEKSTE:
Johannes 3:5-8, Efesiërs 5:18