PINKSTER 2020 – Gesprek 4
Hoe lyk ‘n Gees-vervulde lewe?
Genade en vrede vir julle!
Ons praat die afgelope tyd natuurlik oor die Heilige Gees, die Een wat Aarde toe gekom het met die pinkster gebeure. Ons het genoem dat die Heilige Gees ‘n persoon is, maar nie ‘n onbekende persoon nie, Hy is God self, wat by ons is. Ons het ook genoem dat Hy werk om ons tot bekering te bring, en ons te help groei as volgelinge van Jesus. Gister het ons gesê dat jy nie hoef te twyfel of jy die Heilige Gees het nie, want Jesus self belowe ons dat elkeen wat in Hom glo, die Heilige Gees ontvang het. Hy is by jou en in jou! Natuurlik sal dit vir ons niks beteken om die Heilige Gees binne ons te hê, as daar nog steeds niks in ons lewe verander nie.
So ons eerste vraag vandag is:
1. Dink jy mense verander as die Gees in hulle kom bly? Hoe lyk daai verandering?
Nee, die Gees wil juis van ons beter mense maak as wat ons tans is! Jesus leer ons dat ‘n boom aan sy vrugte geken word (Lukas 6:43-45), en daarom as ons volgelinge van Jesus is, dan maak dit sin dat ons eie lewe nie meer sal lyk soos ‘n slegte boom met slegte vrugte nie, maar dat die vrug van ons lewe sal goed wees.
Ons almal sou al gehoor het van die Vrug van die Gees:
Galasiërs 5:22-25 22 Die vrug van die Gees, daarteenoor, is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, 23 nederigheid en selfbeheersing. Teen sulke dinge het die wet niks nie. 24 Dié wat aan Christus Jesus behoort, het hulle sondige natuur met al sy hartstogte en begeertes gekruisig. 25 Ons lewe deur die Gees; laat die Gees nou ook ons gedrag bepaal.
Paulus begin eers hier en noem die eienskappe van ‘n slegte boom, of die “Praktyke van die sondige natuur”, soos hy dit noem. Ons hoef dit nie op te noem nie, dis oral om ons. Die wêreld is vrot daarvan! Maar die Gees leer ons en help ons om nie soos die slegte bome in die wêreld te wees nie, maar om anders te wees en anders te lewe, ook anders as wat ons was voor ons Hom geken het en gekies het om Hom te volg.
Dit beteken nie ‘n Christen is iemand wat perfek is nie! Want dan sou nie een van ons Christene kon wees nie. Maar ‘n Christen is wel iemand wat kies om die goeie dinge na te jaag, en heeltyd groei om meer soos Jesus te word, tot die dag wat ons by ons Hemelse Vader is. Hy self kom skryf die wet op ons harte (Hebreërs 10:16). Dit gaan egter nie oor ‘n klomp reëls nie, maar eerder oor ‘n liefdevolle Heilige Gees wat van jou die beste persoon wil maak, sodat jy die beste lewe kan lewe wat vir jou moontlik is.
Vrae:
- Wie ken jy wat die vrug van die Gees het? Watter eienskappe het hulle waarna jy opkyk?
- Watter vrug van die Gees sukkel jy nog self mee? Bid gerus vir mekaar hiervoor
Gebedstemas
Ons bid saam vir ons land se mediese personeel. Die dokters, verpleegsters, aptekers en enige ander medici wat op die voorfront van die geveg teen COVID-19 is. Ons bid veral vir hulle gesondheid, hulle energievlakke, en hulle gemoed en geloof in ‘n tyd waar hulle met vrae gekonfronteer word waarvoor daar dalk nog nie antwoorde is nie. Ons bid ook vir hulle gesinne en families wat hulle ondersteun.
Addisioneel
VRAE:
- Hoe het jou lewe verander vandat jy die Here aangeneem het?
- As jy dink aan die Vrug van die Gees as iets wat jou vry maak, waarvan dink jy kan mense bevry word?
- Dalk ‘n moeilike vraag: As jy dink oor die Vrug van die Gees, dink jy dit is moontlik vir mense wat nie glo nie om hierdie vrug te dra?
TEKSTE: Filippense 4:4-9, Efesiërs 4:17-32, Romeine 12:9-2