Pinkster

PINKSTER 2020 – Gesprek 5

Gemaak met unieke gawes en roepings

Genade en vrede vir julle!

Ons praat die afgelope week oor die Heilige Gees, die Persoon van die Drie-Enige God wat by ons is, in ons en deur ons werk, en wat ons verander om meer soos Jesus te word. Alle gelowiges ontvang die Heilige Gees wanneer hulle Jesus aanneem as Redder en Verlosser. Die Gees oortuig ons ook dat elkeen van ons behoort te groei om meer soos Jesus te word en meer van die Gees se vrug in ons lewe te hê. Maar die Here het ook ons elkeen uniek gemaak, en vir ons elkeen ‘n afsonderlike gawe of gawes gegee waarmee ons die wêreld kan dien en God kan verheerlik. 

Ons eerste vraag vandag is: 

1. Glo jy dat God jou spesifiek gemaak, gekies en geroep het vir iets uniek? 

Ons leer van die Geestelike Gawes op verskeie plekke in die Bybel, die bekendste dalk in 1 Korintiërs 12. Ons lees verse 4 tot 6: 4 Daar is ‘n verskeidenheid van genadegawes, maar dit is dieselfde Gees wat dit gee; 5 daar is ‘n verskeidenheid van bedieninge, maar dit is dieselfde Here wat die opdrag gee; 6 daar is ‘n verskeidenheid van kragtige werkinge, maar dit is dieselfde God wat alles in almal tot stand bring. 

Al die Gawes kom van dieselfde Gees af, maar is tog verskillend. Net so het ons almal een God: Vader, Seun en Heilige Gees, maar tog is ons verskillend gemaak. Paulus gaan dan aan van vers 12 af en vergelyk ons as gelowiges met ‘n liggaam. As jy na jou eie lyf kyk, dan is daar ‘n klomp verskillende dele wat verskillende goed doen. Jou oog sien, jou hand voel en vat, jou maag verteer kos, jou longe haal asem. As een van hierdie dele ophou werk, is jou lewe moeiliker, of kan jy selfs heeltemal doodgaan.

Net so ook het die Heilige Gees vir ons elkeen iets gegee waarin jy goed is, en Sy doel daarmee is dat jy die mense om jou en die Here dien. Miskien is jy goed met musiek, met praat voor mense, of om vir mense te bid wanneer jy alleen is. Miskien het jy baie wysheid, miskien is dit vir jou maklik om ander mense goed te leer, of dalk is jy iemand wat hard werk om ander te dien, sonder dat jy daaroor hoef te dink. So kan ons aanhou, en elkeen van ons het ‘n verskeidenheid van gawes. Dit sluit natuurlik ook gawes van tale, profesie en genesing in.
Maar nie een gawe is belangriker as die ander nie! Eks seker almal van ons wil vir verlamdes bid dat hulle opstaan en dans, maar die Heilige Gees het aan elkeen van ons verskillende gawes gegee soos Hy wil, en Hy weet wat ons en die mense om ons nodig het. 

Paulus stop dan ook nie in 1 Korintiërs 12 nie, maar gaan aan in hoofstuk 13 met die baie belangrike woorde: Of jy nou in mense of engele tale praat, of jy nou geloof het om berge te versit, of al die kennis, as jy nie dit in liefde gebruik nie, beteken dit niks! Die gawes is ‘n geskenk, maar die geskenk kan mens reg of verkeerd gebruik. Mag ons elkeen leer om mense lief te hê, meer as onsself, met die gawes wat ons het!

Vrae:

 

  1.  Weet jy watter gawes jy het? Deel gerus met iemand, of bid vir mekaar as julle nog nie seker is nie.
  2. Wat dink jy kan mense keer/verhoed om hulle geestelike gawes te gebruik?

Gebedstemas

Ons bid vir elke persoon wat aan die stuur van ‘n besigheid staan. Vir elke eienaar, bestuurder, menslike hulpbron bestuurder of voorman wat moeilike besluite moet neem oor salarisse en afdankings, wat wys moet wees in hoe hulle geld rondskuif of lenings aangaan, en wat die belange van hulle werknemers en die van die plaas of besigheid moet balanseer. Ons bid spesifiek ook dat hulle en hulle naastes hulle geloof sal behou in die Here wat ook in aardse dinge vir ons uitkoms bring

Addisioneel

VRAE:

  1. Hoe sou die wêreld gelyk het as almal dominees/pastore was?
  2. Ons moet saamwerk om werklik ‘n liggaam te wees. Hoe kan ons met mense wat verskil van ons saamwerk?
  3. Hoe lyk dit as iemand hulle Geestelike Gawes nie in liefde gebruik nie?

TEKSTE:  Romeine 12:1-8, Jesaja 11:1-3, 1 Korintiërs 12:28-30, Efesiërs 4:11